Die grond wat vandag bekend staan as Decoligny, het oorspronklik behoort aan Afrikaanssprekende Blanke boere wat die grond van die
plaaslike hoofman, Ngangelizwe so ver terug as 1869 ontvang het. Hy het die grond aan hulle gegee om as ’n buffer te dien tussen
sy mense, die Temboes, en die Pondo, wat aan die ander kant van die Mthatharivier gewoon het. Vir meer besonderhede, lees gerus hier (Pdf,
59.2KB).
Op die oomblik bestaan die gemeente uit 8 buiteposte. Die lidmaattal van die buiteposte wissel van 5 lidmate tot meer
as 40 lidmate. Die lidmaattal wissel redelik dikwels omdat baie lidmate heen en weer trek op soek na werk. ’n Ander faktor
wat ’n wisseling veroorsaak, is die beweging tussen skole van skoolkinders wat lidmate is.
Die afgelope aantal jare is baie aandag
in die prediking gegee aan die taak van die lidmaat in die kerk en hoe om ’n lewende lidmaat van ’n lewende kerk vir Christus te wees. Sedert die begin van die negentiger jare is gebruik gemaak van Jeug spanne wat vir tydperke van 3 maande tot ’n jaar hier in die gemeente
gewerk het onder toesig van die leraar en die kerkraad. Evangelisasie dienste met behulp van ’n tent is gehou en van die lidmate
is saamgeneem op besoeke om hulle op te lei om self verantwoordelikheid vir die uitdra van die Evangelie in die betrokke gebied van
die gemeente te neem.
Daar is begin om klem te lê op die uitbreiding van die koninkryk van God deur Sendingwerk na ander gebiede buite
die Transkei. Hiervoor is Sending spanne, onder andere van Operasie Mobilisasie, in die gemeente gebruik. Gemeentelede
is blootstelling aan byeenkomste van Love Southern Afrika gegee om meer te leer van Sending. Die Here het dit so gewil dat van
die jongmense van die gemeente die geleentheid gekry het om besoeke in Mosambiek te bring. Dit het op sy beurt weer die resultaat
gehad dat die volwassenes van die gemeente begin besef het dat dit die plig en verantwoordelikheid van die gemeente is om uit te reik
na ander gebiede buite Suid-Afrika. Jaarlikse besoeke aan Mosambiek deur die leraarspaar en lidmate het deel van ons bediening
geword.