Willem is gebore in Somerset-Wes en het ook daar grootgeword. Hy het sy Laerskool opleiding aan die Primêre Skool Somerset-Wes gehad; en sy Hoërskool opleiding aan die Hoërskool Hottentots-Holland. Na skool studeer hy aan die Universiteit van Stellenbosch.
Annalie is gebore in die Strand en het haar Laerskool opleiding in die Strand by Lochnerhof gehad; en haar Hoërskool opleiding aan die Hoërskool Hottentots-Holland. Daarna gaan studeer sy aan die Hugenote Kollege
in Wellington, waar sy haarself bekwaam as Maatskaplike Werker. Sy werk vir drie jaar as Maatskaplike Werker voordat hulle na die Transkei gaan.
Willem het sy roeping om in Transkei te gaan werk, ontvang in Junie 1973, tydens ’n Transkei Werkers Aksie kamp in die Transkei. Annalie bid oor die saak en die Here lei haar om ook na die Transkei te gaan. Hulle trou in Junie 1974. Willem voltooi sy Teologiese studies aan die Kweekskool in 1975 en word georden as leraar op 25 Januarie 1976 in die NG Kerk Somerset-Wes en uitgestuur as sendeling na die Transkei.
Op 02 Februarie 1976 vertrek hulle na Transkei, na hul eerste gemeente, Isilimela. Saam met hulle was hul twee maande oue baba, Rudi. Jaco, Christine en Ronél is gebôre terwyl hulle op Isilimela was. ’n Maand na Ronel se geboorte, vertrek hulle na Decoligny, en word in Decoligny gemeente bevestig op 24 Maart 1984. Die kinders ontvang hul Laerskool opleiding in Mthatha aan die Transkei Primêre Skool. Vir hul Hoërskool opleiding, gaan Rudi na Hoërskool Hangklip in Queenstown; Jaco na Marlow Hoër Landbouskool, Cradock; Christine na Hoërskool Hangklip in Queenstown en Ronél na Hoërskool Grens in Oos-Londen.
Rudi boer tans op 'n druiwe plaas naby Robertson en is getroud met Mariza. Sy hanteer die finansies van die plase. Hulle het 'n seun, Willem Daniël en ’n dogter, Irene.
Jaco het sy eie boerdery besigheid in Humansdorp. Hy is getroud met Petrunel, wat rekenaar programmering by die plaaslike Koöperasie doen. Hulle het ’n seun, Gerhard en ’n dogter, Karien.
Christine werk by Cape Gate Medi-Clinic as Voedseldiensbestuur bestuurder. Sy is getroud met Johann van Deventer, ‘n meganiese ingenieur op Stellenbosch. Hulle het ’n dogter, Anél.
Ronél is ’n Arbeidsterapeut in Bloemfontein. Sy is getroud met Johan van
Tol wat verder studeer en klas gee aan die Universiteit in Bloemfontein.