Een van ons doelwitte in ons werk is om beter kontak te bewerk tussen die VGK Decoligny en die NGK. Daarom is dit vir ons baie
belangrik om uit te reik na NGK gemeentes deur geleenthede te reël waar hulle kan kom besoek of waar ons die betrokke gemeente kan
gaan besoek. Ons kan nie ’n gemeente uit ons eie gaan besoek nie, ons gaan slegs op uitnodiging van die betrokke gemeente!
Enige gemeente wat ons op Decoligny wil kom besoek, is baie welkom om ons te kontak, sodat ons ’n besoek vir hulle kan reël.
Kom en beleef wat ’n student jare gelede vir my gesê het: “Ek sien vandag vir die eerste keer dat ek swart broers en susters in Jesus het!” Een van Decoligny se lidmate het een dag vir my gesê: “Dominee, die mense het ons darem baie lief dat hulle so baie vir ons kom kuier!”
Dit is vir ons aangeneem wanneer gemeentes ons op Decoligny kom besoek om te leer en te deel in die werk van die Here.
Al neem dit
my dikwels weg uit die gemeente, is die besoeke aan ons ondersteuner gemeentes van die uiterste belang vir die werk in die Transkei.
Ons kan nie sonder die gebede en hulp van die gemeentes, die werk in Decoligny gemeente doen nie. Verder is die kontak nie ’n eenrigting
verkeer nie. Sodra daar genoeg belangstelling gekweek is deur my besoeke aan gemeentes, loop dit uit op ’n besoek van daardie gemeente
aan Decoligny. Dit is waarheen ons werk, want dan eers begin die besoeke vrugte afwerp. Dan eers kom mense op die punt om te kan sê:
“Nou weet ek waarvoor om te bid!” Dan is Transkei en Decoligny en die lidmate nie net meer name op die landkaart nie, dan kom daar
’n persoonlke band tussen lidmate van die verskillende gemeentes; dan kry die name gesigte; dan word ons waarlik broers en susters
in die Here wie mekaar ken!
Dit is dan ook die rede waarom DOVE (Decoligny Ondersteunings Vennootskap) gestig is. DOVE is ’n organisasie
wat homself ten doel stel om die verskillende gemeentes wat kontak het met Decoligny gemeente, saam te groepeer om die ondersteuning
van Decoligny te koördineer.